Vir altyd en ‘n dag
$32.79
$40.33
Al speel hierdie verhaal in die oorlog tyd af, is hierdie glad nie jou gewone oorlog storie nie. Franciska Mouton neem jou diep in die konsentrasiekamp in. Op haar briljante manier laat beleef sy jou die seer, swaar, siekte, dood en magteloosheid van die boerevroue wie se mans besig was om oorlog te maak teen die Engelse. Jy stap saam in hul skoene van honger, ontbering, onsekerheid en vrees. Jy bewonder hul geloof en moed. Tussen al hierdie vroue is daar een jongvrou, Hendrien Hattingh. Jy kan nie anders as om die hoogste respek en waardering vir haar te ontwikkel nie. Sy stuit nie vir die duiwel nie en sy bly ook nie stil nie. Haar haat en veragting vir hul onderdrukkers – die Engelse – laat sy telkens hoor. Met een van die vyand se manne het sy haar sleg misgis, Clive Morris, Engelsman soos hy is, het haar heel uitgeboul toe hy haar in haar eie taal antwoord na een van haar tirades teen die Engelse. Tog is sy haar ma en baie ander se steunpilaar ook. Haar sagte hart laat haar selfs ʼn helpende hand na die vyand uitsteek wanneer sy help met die versorging van gewonde Engelse. Nooit sou sy kon raai dat haar hart haar so sou verraai en haar soveel smart sou laat deurgaan nie. Met ʼn swartkop, blou oog Engelsman kom sy haar Moses teë. Skielik was daar vrede! Wat nou? Waarna moet hulle terug gaan? Leef hul vaders en broers nog? ʼn Verhaal wat jou aan die hart gryp, jou woedend laat die een oomblik en die volgende oomblik laat lag vir die vurige blondekop, Hendrien Hattingh. Jou hart gaan uit na die vroue en kinders wat na niks toe moet terug keer, en Franciska Mouton skryf jou in hierdie verhaal in. Jy word deel van die lief en leed van haar karakters. Haar oorlogstonele so raak beskryf dat jy die kruit kan ruik om jou en die spanning in die lug kan aanvoel. Dan kom sy met die verrassende einde waar jy nie van die een oomblik tot die volgende weet of jy moet hul of lag nie. Puik storie Franciska Mouton. Ek sal die boek beslis aanbeveel. Daar is geen vervelige oomblik nie. Marsofine Krynauw
Historical